Raad vir konsentrasie probleme

Ons het die volgende vraag ontvang: “My kind is in Gr. 3 en sukkel om te konsentreer. Alles het goed gegaan tot sy in gr. 2 en in gr. 3 gekom het. Sy wil nie uit haar eie uit lees nie en sukkel ongelooflik baie met wiskunde. Daar het so ‘n klein rukkie terug iets met haar gebeur wat haar onstel het (nog steeds), ek is nie seker hoe om dit te hanteer nie, maar sy het al voor dit nie gekonsentreer nie. Ek het haar by iemand wat haar help met die lees en wiskunde, maar dit lyk nie of dit help nie. Ek is so moedeloos. ” (vragie is verkort)

Nicolette Pretorius, ‘n opvoedkundige sielkundige het die volgende raad vir bogenoemde mamma gegee. Alhoewel haar raad op hierdie mamma se probleem van toepassing is, sal dit enige iemand baat wie se kind ook met konsentrasie probleme sukkel:

” Iemand het een keer gesê dat om kinders te hê is soos om jou hart buite jou lyf te hê – dit bring regtig die kwesbaarste in mens uit – en ai, daar is min dinge wat `n ouer so magteloos kan laat voel soos skoolwerk!  Ek het groot empatie met jou moedeloosheid, klink of jy al `n lang pad gekom het en nie meer weet watter kant toe nie!

Ek verstaan uit jou epos dat jou dogtertjie nou reeds `n geruime tydjie `n konsentrasie-probleem het en ook `n mate van leerprobleme.  Daar was ook `n meer onlangse emosionele situasie wat moontlik die intensiteit van haar konsentrasie-probleem verder kan verhoog.  Dit klink egter asof die konsentrasie-probleem die primêre kwessie is en voor die emosionele gebeurtenis (en as ek reg lees ook voor die leerprobleme) reeds teenwoordig was.  Dit is belangrik om te bepaal, want angstigheid, kommer en ander emosionele simptome kan soms soos `n konsentrasie-probleem lyk maar bring gewoonlik `n skielike afname in prestasie en skielike toename in “gedragsimptome” (konsentrasie, afleibaarheid, ens) mee – wat nie in haar geval so is nie.  Leerprobleme kom ook dikwels saam met konsentrasie-probleme voor, of kan daartoe aanleiding gee – in haar geval klink dit meer asof die konsentrasie-probleem eerste daar was?

As ek so lees is my sterk vermoede dat jy haar na `n kundige sal moet neem wat verder kan evalueer en kan kyk of daar nie dalk `n onderliggende Aandagafleibaarheid met/ sonder Hiperaktiwiteitsindroom (ADHD is nie) – in haar geval klink dit nie asof sy hiperaktief is nie, maar eerder asof sy simptome van die primêre aandagafleibare tipe sou kon hê.  Ek kan ongelukkig nie so per epos my vermoedens bevestig nie – dit vereis oor die algemeen meer insette en inligting van ‘n ouer se kant af, `n gesprek met of inligting van haar onderwyseres ens, maar ek lees sekere goedjies raak wat my laat voel dat dit wel vir jou die moeite (en geld) werd sal wees om die proses verder te neem.  Jy het ook reeds `n paar dinge gedoen (soos die ekstra hulp) wat nie die probleem verminder het nie.

Jy noem dat haar konsentrasie-span en skoolwerk nie regtig in Graad 1 `n probleem was nie.  In Graad R en 1 is onderwysreresse weens verstaanbare redes soms huiwerig om enige gedrag te etiketteer omdat  kleintjies maar tyd gegun word om emosioneel aan te pas by die eise van skool en om sommer net emosioneel bietjie te groei.  Ek vind in praktyk dat die hiperaktiewe/ impulsiewe kindjies (ADHD –gemengde tipe of predominante hiperaktiewe/impulsiewe tipe) oor die algemeen sommer vroeg reeds raakgesien omdat hulle nogal `n steuring in die klas veroorsaak en met hul gedrag baie aandag trek.

Die kindjie wat aandagafleibaar is en sukkel om hulle aandag te behou (ook met takies wat volgehoue aandag vereis) word dikwels in praktyk eers in Graad 2 of 3 raakgesien deur onderwysers – dikwels tot verbasing van hulle ouers omdat hulle soms beter fokus wanneer huiswerk een tot een gedoen word.  Hulle simptome is dikwels nie so opmerklik nie omdat hulle so bietjie wegraak agter die kleintjies wat met hulle gedrag meer aandag vereis.  In Graad R en 1 kan hulle ook maklik kompenseer en redelik byhou omdat hulle intelligent is, maar vanaf Graad 2 en dan veral 3 raak die impak op hulle werk groter omdat die lading soveel toeneem (om nie van Graad 4 te praat nie!) en ook omdat hulle meer onafhanklik takies moet kan verrig – hulle taakingesteldheid word dan toenemend beinvloed deur aandagafleibaarheid ens.

Dit gebeur dan dikwels dat hulle nie takies klaarkry in die klas nie omdat hulle dromerig is, of omdat hulle aandag maklik deur geraas of beweging afgelei word. Hulle sukkel ook om hulle aandag te bepaal op dinge wat nie vir hulle interresant is nie, en voel gou oorweldig deur take wat volgehoue aandag vereis.  Maar in dieselfde asem kan hulle weer oorfokus op aktiwiteite wat hulle interessant vind en gebeur dit sommer dat hulle jou dan nie hoor wanneer jy met hulle praat nie so konsentreer hulle as hulle byvoorbeeld `n spesifieke program kyk of speel met iets waarvan hulle hou.  Al hierdie faktore dra daartoe by dat waardevolle insette in die klas by haar verbygaan en haar skoolwerk word dan daardeur beinvloed.  Jy kan dalk so bietjie deurdagtig deur haar Graad R- en 1 verslae gaan en kyk of jy nie iewers `n subtiele konsentrasie-draadjie kan identifiseer waar juffrou dalk opgemerk het dat sy dalk `n stadige werkspoed het, of onnodige foute maak omdat sy haar takies afjaag nie, of nie takies klaarkry nie.  Soms is netheid ook een dag op en die ander dag af as gevolg van fluktuasies in taakoriëntasie, of haar prestasie fluktueer – sy ken vandag nie die werk wat sy gister geken het nie.  Dalk het `n juffrou iewers opmerkings geskryf oor haar fokus of luistervaardighede oor die algemeen of tydens storietyd.

Indien `n ernstige konsentrasie-probleem nie geidentifiseer en aangespreek word nie, kan dit toenemend gebeur dat `n kind al hoe meer en meer onder haar ware vermoë presteer omdat haar simptome al hoe meer met haar skool-funksionering begin inmeng.  Dit is egter ook baie belangrik om te besef dat alle kinders met tye nie fokus nie – maar as die simptome wat met `n konsentrasie-probleem geassosieer word meer voorkom as wat `n mens sou verwag by kinders van haar ouderdom, as dit voorkom by die skool en huis, as daar `n geskiedenis is (met ander woorde dit is nie gedrag wat net skielik ontstaan het nie) EN as dit met haar funksionering inmeng (leerprobleme, skolastiese onderprestasie, begin lae selfbeeld ontwikkel, lae motiveringsvlakke ens) – bestaan daar die sterk vermoede dat haar konsentrasie-probleem `n neurologiese oorsprong kan hê.

My voorstel is dat jy oor die korttermyn voortgaan met bykomende leer-ondersteuning (die kwaliteit en haar vordering daarmee sal stadiger wees as haar fokus nie optimaal is nie, maar steeds beter as net binne klas-konteks waar daar meer stimuli is) en dat jy na `n voorligting/ opvoedkundige sielkundige in jou omgewing gaan wat jou kan bystaan met `n volledige psigo-opvoedkundige evaluering.  Jy sou ook eerste na `n pediater kon gaan vir advies – die kans is egter daar dat hy/ sy jou in elk geval vir `n volledige evaluering gaan verwys omdat medikasie nie sommer ligtelik voorgeskryf word nie!  Daar is egter ook pediaters wat self die tyd neem om inligting van die skool te kry ens en self `n langer evaluering doen.  Die sielkundige se rol is om `n volledige inname-onderhoud met jou doen om agtergrond en geskiedenis te kry en ook om kontak maak met jou kindjie se skool vir kollaterale inligting wat haar sal help om die aard en intensiteit van haar gedragsimptome te bepaal.

Daarna vind `n volledige evaluering plaas (dit is `n proses wat `n paar uur neem):

  • Sy sal haar kognitiewe potensiaal bepaal met behulp van IK-toetsing (dit help om haar kognitiewe ontwikkelingsvlak te bepaal in vergelyking met ander kinders van dieselfde ouderdom en om sterk- en swakpunte te bepaal wat haar onderwyseres en remediërende onderwyseres kan help in die skool-situasie.  Kinders met ADHD is gewoonlik gemiddeld of hoër in hulle vlak van intelligensie – kinders met ontwikkelingsagterstande kan ook probleme met konsentrasie ondervind wat dan nie aan ADHD toegeskryf word nie)
  • Sy sal skolastiese toetse doen – basiese spel, lees en wiskunde (help om te kyk op watter vlak sy funksioneer om dan te bepaal of sy inderdaad onder haar intellektuele vlak presteer of nie)
  • Indien jou kindjie onder haar intellektuele vlak presteer, word daar na bydraende hindernisse tot leer ondersoek ingestel – daar word byvoorbeeld gekyk of daar `n leersteuring is (bv disleksie ens)
  • `n Emosionele sifting word gedoen om te bepaal of emosionele simptome die rede vir haar onderprestasie kan wees (maar ek wil hier ook sê dat baie kinders met onderliggende ADHD emosionele simptome toon as gevolg van die feit dat hulle oorweldig bly voel deur hulle skoolwerk en nie volgens hulle vermoëns presteer nie), in jou dogtertie se geval sal mens hieruit ook kan bepaal of sy dalk meer ondersteuning nodig het met die verwerking van die ontstellende insident.
  • Daar word na die aard en intensiteit van haar gedragsimptome (konsentrasie ens) gekyk soos weergegee deur haar funksionering tuis, by die skool en tydens die assessering
  • `n Ouditief- en visueel-perseptuele sifting word ook tipies gedoen om te bepaal of daar perseptuele probleme (visueel-motoriese integrasie, ouditiewe en visuele diskriminasie, – geheue ens) is wat ook verder sou kon bydra tot lees- en spelprobleme (bv letter-/ klank-omkerings).

So `n evaluering sal `n waardevolle bydrae lewer om te bepaal of daar wel onderprestasie is en of dit primêr `n konsentrasie-probleem soos ADHD is wat daartoe aanleiding gee.  Enige bydraende faktore (of gevolge) sal uitgelig word en die sielkundige sal dan ingeligte aanbevelings kan maak.

Indien die vermoede van ADHD bevestig word, sal `n besoek aan `n pediater `n goeie aanbeveling wees om meer inligting te verkry oor behandelingsopsies.  Dit is dikwels `n baie moeilike besluit vir ouers – veral in die lig van al die negatiewe opinies en media-dekking wat soms ook maar subjektief is – en `n pediater sal aan julle kan verduidelik presies wat ADHD is en ook verduidelik hoe die verskillende tipes beskikbare medikasies werk.  As jy `n goeie proses gevolg het en regtig seker gemaak het wat die oorsaak vir haar probleme is kan ek jou verseker dat jy die besluitnemingsproses baie goed bestuur het om `n verantwoordelike besluit te kan neem.  Oor die algemeen sal `n goeie pediater ook nie sommer net by voorbaat medikasie voorskryf nie, maar haar eers op `n proefperiode plaas wat goed gemonitor word sodat die regte aanbevelings gemaak word en waar enige newe-effekte geidentifiseer kan word.

Die sielkundige sal ook ander aanbevelings kan maak rakende hantering van geidentifiseerde leerprobleme, haar emosionele simptome en ook aan haar onderwyseres raad kan gee vir akkomodasies in die klas.  Dit help nie mens spreek net die ADHD met medikasie aan nie – dit is ook belangrik om die tyd wat sy medikasie gebruik te benut om ander bydraende faktore ook aan te spreek.  EyeQ wat jy gebruik het is na my mening `n goeie aanvulling en verskaf nodige bykomende voedingsmiddels wat ook die absorpsie van medikasie kan help – maar dit sal nie die plek van medikasie vervang as dit aangedui is nie – ADHD bly `n neurologiese kondisie.   Wees versigtig vir ander (duur) natuurlike middels op die winkelrakke wat kitsoplossings bied vir alles vanaf toonpyn tot hiperaktiwiteit!

My opinie is dat `n goeie proses en behandeling regtig `n toename in meer ernstige leer- en emosionele probleme kan voorkom en `n daadwerklike verskil aan haar akademiese selfbeeld kan maak – indien dit aangedui is.  Indien die teenwoordigheid van ADHD bevestig word en jy nie medikasie as `n behandelingsopsie vir nou sien nie, sal die diagnose jou reeds `n goeie beginpunt gee vir om met haar onderwyseresse te gesels oor akkommodasies ens wat solank in die klas gedoen kan word – dit bly egter regtig noodsaaklik om haar emosionele welstand te beskerm en in te gryp voordat haar skolastiese agterstand onoorbrugbaar raak – dit sal dan groter skade oor die langtermyn berokken!

Terwyl jy die proses oordink kan jy gerus op Kinderwerf se fb-bladsy gaan loer na die wenke om konsentrasie-probleme te akkommodeer binne leeromgewings  – dit is `n baie toepaslike opsomming van riglyne wat deur `n remediërende terapeut verskaf is.

Baie sterkte!

Nicolette Pretorius

Voorligtingsielkundige

Goodwood/Parow – fisiese adres is N1 City Mews, Eenheid A1, Manus Gerberstraat, Goodwood

Sel – 0824123203

nicolette.pretorius@telkomsa.net

2 thoughts on “Raad vir konsentrasie probleme

  1. my dogtertjie 6 het hul nou onlangs gevind sy aandag afleibaarheid, basies sy kan al die werk doen maar maak nie alles klaar nie, wat kan gedoen word om haar konsentrasie te verbeter?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s