Afrikaanse Skoenveter Rympies

Ons kry dikwels op Kinderwerf versoeke van ouers en onderwysers vir Afrikaanse rympies om die kleinspan te leer om hulle skoenveters vas te maak. Met die hulp van ‘n paar oulike mammas op ons Facebookblad www.facebook.com/kinderwerf het ons die volgende rympies vir julle gevind. Watter een is jou gunsteling?

 

Hasie-gaatjie

Hasie-gaatjie

om die draaitjie,

spring gou deur,

vasgekeer! (Met vasgekeer trek jy die veter vas!)

 

Twee klein wurmpies:

Twee klein wurmpies,

Piet en Tom,

die enetjie trek sy ruggie krom,

die ander hardloop om en om,

kruip so woeps onderdeur Tom,

nou is altwee se ruggies krom!

 

In die gat…

In die gat is daar n boom (maak knoop)

In die boom is daar n gat (maak n strik)

Om die boom dans die haas (vou die veter om die ander veter)

In die gat val die haas (steek een veter deur ander veter)

Woeps val die boom se gaatjie plat. (trek die veters styf)

 

Daar was ‘n boompie…

Daar was ‘n boompie,

hasie hardloop om die boompie,

in die gaatjie

en daar steek die ore uit!

 

Twee kleine hasie maatjies

Twee kleine hasie maatjies gee mekaar n drukkie.

Twee kleine hasie maatjies het ‘n gaatjie.

Een kleine hasie maatjie hardloop rondom die boompie.

Een kleine hasie maatjie spring in die gaatjie,

en daar trek ons die oortjies!

Vas is die skoentjie my pampoentjie!

Die haantjie

DIE HAANTJIE

Haantjie klap sy vlerkies toe

En sê Koeke-doedel-doe!

Dit is tyd om op te staan:

Kinders moet nou skool toe gaan.

Haantjie, waarom tog so vroeg?

Ag, ek is tog nog so moeg.

Haantjie, stil tog asseblief

Ek het my slaap so lief.

Kinders, nee, dit is al laat

Al die mense loop op straat,

Eenmaal nog roep ek jul toe:

Koeke-doedel-doedel-doe!

Twee blommetjies vir Mamma

“Twee blommetjies vir Mamma 

want sy kook my kos. 

Nog twee blommetjies vir Mamma, 

sy maak nare knope los. 

Twee blommetjies vir Mamma 

want sy sing vir my. 

Nog twee blommetjies vir Mamma, 

sy sit pleisters op ‘n sny. 

Twee blommetjies vir Mamma 

want sy luister as ek kla. 

Al die blommetjies vir Mamma. 

Sy is die mooiste, beste Ma” 

-Alba Bouwer- 

Afrikaanse kinderliedjies en rympies

n Wiegeliedjie

CJ Langenhoven

 

 

Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie,

moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!

Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,

heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.

“Doedoedoe bladertjie,

slapenstyd nadertjies;

doedoedoe blommetjies,

nag is aan’t kommetjies.”

So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

 

 

Bo in die bloue lug flikker die sterretjies -

hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,

wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,

wakend oor mensies en diertjies en boompietjies.

“Wees maar gerustetjies,

slaap maar met lustetjies!”

So sing die sterretjies -

stilletjies, verretjies:

Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!

 

 

Onskuldige ogies en voetjies en handetjies!

Wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies,

ver deur die wêreld se kronkels en gangetjies!

Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.

Bly maar by moedertjie,

kindlief se hoedertjie -

slaap in haar armpies,

saggies en warmpies,

Doekies, dan, doekies in moeder se armpies