Graad 1: Sukkel om werk klaar te maak

Vraag:

Wilke Snyman het ons die die volgende vraag gevra:

” My seuntjie is in Gr 1 en sukkel om sy werk in die klas klaar te maak. Hy sê sy juffrou gee hom nie genoeg tyd nie en hy probeer mooi skryf maar sy werk bly agter! Hy lees en skryf pragtig maar net baie stadig! Hoe kan ek hom help sodat hy en juffrou tevrede is met sy werk?”

 

Antwoord

Nicolette Pretorius, ‘n Voorligtingsielkundige, gee die volgende antwoord vir Wilke:

 

Dit klink of jy `n seuntjie het wat sy werk verstaan en dit baie graag mooi en netjies wil doen!  Baie kindertjies ervaar aanvanklik probleme om hulle takies te voltooi binne `n gegewe tyd in `n besige klaskamer.  Dit kan huiswerksessies ook woes laat verloop as hulle dan daardie einste take smiddae of saans na `n besige skooldag moet klaarmaak!

 

`n Goeie beginpunt sal wees om `n gesprek met sy juffrou te hê sodat jy so bietjie meer inligting kan kry oor hoe sy spoed vergelyk met sy klasmaats s’n en ook oor wat sy vermoed die moontlike wortel van die probleem kan wees.  `n Paar dinge kan onder meer tot `n stadige werkspoed bydra:

 

  • In jou seuntjie se geval klink dit asof hy `n goeie begrip van die werk het en waarskynlik nie daadwerklike leerprobleme het nie (as `n kindjie nie werk verstaan nie sal hy ook stadiger werk).
  • Uitvalle in sy fyn-motoriese ontwikkeling kan veroorsaak dat hy letterlik stadiger skryf as gevolg van die fisiese of praktiese eise van skryf en potloodhantering.
  • Dit mag ook wees dat hy bietjie perfeksionisties is en so daarop fokus dat hy netjies en reg skryf dat hy dan te stadig werk.
  • Ander moontlike oorsake kan `n onderliggende konsentrasie-probleem insluit wat kan veroorsaak dat hy dalk kan dagdroom of maklik afleibaar tydens die voltooing van takies kan wees wat dan sy werkspoed beinvloed.  Dit is soms meer sigbaar binne `n besige klaskonteks waar daar baie meer beweging en geluide is wat sy aandag kan aftrek en dit verg boonop vir alle kinders aanpassing om gewoond te raak aan `n raserige klaskamer!  Bio-neurologiese kondisies soos ADHD kan beslis ook bydra tot onvoltooide takies en stadige taakvoltooing op `n gereelde basis.

 

Meer inligting van sy onderwyser sal jou help om te besluit of enige ingrepe soos byvoorbeeld `n evaluering deur `n arbeidsterapeut of `n psigo-opvoedkundige evaluering deur `n opvoedkundige – of voorligtingsielkundige nodig is om agter die kap van die byl te kom.

 

Jy en juffrou kan sommer ook gesels oor hoe lank dit vir julle neem om huiswerk te voltooi (veral as hy gereeld smiddae en saans takies moet inhaal wat hy nie in die klas klaargekry het nie).  Julle kan dan saam op `n redelike tyd besluit om hom gemotiveerd te hou.  30 minute en hoogstens 45 minute is `n goeie maatstaf van `n aanvaarbare tyd in Graad 1 en huiswerk kan daarna gestaak word met `n briefie in sy tuiswerkboek waar jy bevestig dat julle produktief vir die tydperk gewerk het.  Indien dit as `n reël baie langer neem om huiswerk te doen kan jy en juffrou daaroor gesels om sy huiswerk so bietjie aan te pas – hy kan byvoorbeeld dieselfde inhoud en sommetjies as sy klasmaats kry om `n spesifieke vaardigheid in te oefen, maar net so rapsie minder.

 

‘n Paar wenke wat jy tuis kan probeer en ook aan juffrou kan deurgee om die voltooing van takies teen `n redelike spoed te bevorder sluit in:

  • In Graad 1 het baie kinders nog nie `n inherente gevoel van tyd ontwikkel nie.  Dit kan die beplanning van sy takies en spoed beinvloed.  As jy dus vir hom sou sê dat hy 5 minute oor het, sal hy nie werklik besef hoeveel tyd dit is nie.  Julle kan daaraan dink om `n uurglas of `n digitale “timer” wat terugtel te gebruik.  Dit verskaf `n visuele wenk wat kan help om daardie inherente bewustheid te begin vorm.
  • Kyk vooraf na elke takie wat hy moet voltooi en besluit hoe lank tyd jy kan toeken aan watter deel.  Sit dan so paar minute by sodat hy sukses sal behaal.  Julle kan sekere takies onderverdeel in tydsgrepe (bv “jy het 7 minute om hierdie sommetjies tot by hierdie punt te voltooi”) en hom beloon wanneer hy wel die takies in `n gegewe tyd voltooi.  Wanneer hy dan op `n gereelde basis die takies mooi voltooi kan jy die tyd bietjie minder maak.  Wanneer tyd verby is beweeg julle aan na die volgende segment.  Dit is belangrik dat hy sukses-ervarings in taakvoltooing moet hê, so julle kan (soos hierbo genoem) indien nodig ook daaraan dink om subtiel die hoeveelheid huiswerk bietjie minder te maak sodat hy sy werkies klaarmaak en dan weer stadig oor `n tydperk vermeerder soos hy dit baasraak.
  • Maak seker dat die tyd wat hy tuis aan sy werk spandeer gefokusde en produktiewe tyd is – die gebruik van `n “timer” sal help om sy fokus te verbeter.  Jy kan ook vir hom sê dat julle saam daaraan werk om sy vingertjies vinniger te laat skryf.
  • As hy geneig is om baie te gesels en stadiger te werk wanneer jy of sy juffrou naby is mag dit dalk `n goeie idee wees om nie rond te hang nadat jy seker gemaak het hy weet wat van hom verwag word nie.
  • Laat hom toe om gepaste gedrag te observeer – in die klas kan hy byvoorbeeld langs kinders sit wat goed op hulle takies fokus en dit teen `n redelike spoed voltooi.  Sy juffrou kan ook klaswerk vir die hele klas of `n groepie in tydsintervalle verdeel – sy kan byvoorbeeld 5 minute toelaat vir die eerste gedeelte en 5 minute vir die tweede gedeelte en dan `n punt of sterretjie gee vir die gedeeltes wat binne die tydsinterval voltooi is.  Die “timer” kan sigbaar wees sodat die kinders hulle vordering kan dophou.  As `n kind `n sekere hoeveelheid punte vir die dag het kan hy/sy dan `n “prys” uit `n houer kies (hierdie kan ook aangepas word vir by die huis).  Nadat sukses hierop behaal is vir `n tydperk kan `n derde 5-minute segment tot `n aktiwiteit bygevoeg word en as die kinders goed hierby aanpas kan `n aktiwiteit in 2 segmente van 8-10 minute verdeel word (tye gemik op 6 en 7-jarige kinders, langer tye geld vir ouer leerders)
  • Maak baie gebruik van belonings om taakvoltooing en gefokusde gedrag te beloon en onthou om ook sy pogings en werkies wat reg gedoen is te prys!
  • Wanneer hy gemaklik begin raak met die idee van die “timer” tuis of in die klas kan hy self tyd begin hou en dalk ook sy tydsindeling doen sodat hy meer bewus kan word van beplanning en die tyd wat oor is.

Hierdie wenke mag dalk aanvanklik tydrowend wees en alhoewel dit tyd gaan neem sal dit tot geleidelike verbetering lei.

 

Nicolette Pretorius

Voorligtingsielkundige

Goodwood/Parow – fisiese adres is N1 City Mews, Eenheid A1, Manus Gerberstraat, Goodwood

Sel – 0824123203

nicolette.pretorius@telkomsa.net

 

In privaat praktyk met fokus op psigo-opvoedkundige assesserings (evaluerings vir byvoorbeeld ADHD, Leerprobleme en ander hindernisse tot leer en ontwikkeling), spelterapie en direktiewe terapie met kinders en passie vir ouerleiding om ouers te bemagtig (ook geakkrediteerde fasiliteerder van Hettie Brittz se “kweek kinders met karakter”-program).

2 thoughts on “Graad 1: Sukkel om werk klaar te maak

  1. Ek soek ook hulp!

    My seuntjie is ook gr1!

    Hulle moet nou mos klein woorde begin… in my kind se geval kry hulle vreeslike lang woorde en dit maak hom vreeslik deur mekaar en kan dan nie by hou nie en weet ook later hand nie me wat se kant toe nie!

    Hulle ken nog nie die alfabet nie… hulle doen al lees boeke… die juffrou skryf onthou lees vir jou kind want hy kan nog nie self nie… my verassing het verlede week begin my kind moet n spel toes elke vrydag skryf!

    Dit wat vir hulle geleer moet word… word nie woorde soos: tomatiesous, trapkar, harloop en so gaan die lysie aan met hierdie belaglike woorde wat my kind elke dag kry!

    My kind is al so deur mekaar en mamma is moedeloos hoekom dit so moelik vir my kind maak???

    Wat het van 3 tot 4 woordjies op n slag geword wat hulle moet leer en die alfabet!

    Ek is raad op ek weet nie meer wat se kant toe nie!
    As enige iemand vir my antwoorde het hoe ek my kind gaan help sal ek baie bly wees… ek het nie eens die helfde genoem nie … dit het my al so moedeloos ek wil nie eens da aan dink nie!

    • Beste Natatascha

      Die beste is om jou kind te leer klank. As hulle kan klank kan hulle enige woord lees, jy deel dit bloot in lettergrepe. In Graad 1 leer hulle gewoonlik eers sigwoorde en dan later die klanke. Ons vind dat dit beter werk om eers baie goed te kan klank en dan sigwoorde aan te leer. Ons leeskursus sal jou baie help. Jy kan gaan kyk op ons webwerf:

      Baie sterkte!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s